GESKIEDENIS VAN MRK: ’N TERUGBLIK

STIGTING

Op 23 Junie kan ons met trots, maar tog met nostalgie, terugkyk en die gedagtes laat gaan na die dag 40 jaar gelede in 1964 toe Tak Noord-Transvaal gestig is. Trots omdat die tak, waana daar in die begin jare deur sommiges smalend verwys is as “an alien branch ……” nie net die tye van storm en drang oorleef het nie maar floreer het. Nostalgie wanneer mens terugdink aan die eensgesindheid en gemoedelikheid wat bestaan het.

Die vraag kom dadelik op nou waarom dan nog ‘n tak stig terwyl daar reeds ‘n tak van die SARL in Pretoria bestaan het? Baie sal dit seker vreemd vind dat dit in ’n oorwegend Afrikaanse stad soos Pretoria die plaastike tak destyds net engels gebesig het, ongeag of die voorsitter afrikaans- of engelssprekend was. Dit het daartoe gelei dat die taalbewuste afrikaanssprekende radio-amateurs een na die ander nie meer die vergaderings bygewoon het nie en gaandeweg hulle lidaatskap laat verval het. Die behoefte aan samesyn het egter geknaag en ‘n paar manne het begin gesels oor die moontlikheid om ‘n Afrikaanse tak te stig. 

Oukêrel Mannie ZS6AJH (later ZS6AK) het op ‘n goeie dag die taklose amateurs begin opsoek en gou soveel steun vir die gedagte gevind dat ‘n stuk of 14 manne een aand by sy huis bymekaar gekom het.

Almal was daaroor eens dat daar ‘n daadwerklike behoefte bestaan het aan ‘n tak wat terselfdertyd ook na die amateurs in die Noord-Transvaalse platteland kon omsien, vandaar die naam ‘Tak Noord-Transvaal”. Daar is inderhaas aan die SARL Hoofkantoor geskryf om te verneem wat die vereistes was vir die stigting van ‘n nuwe tak. Uit die antwoord het geblyk dat die name van minstens 25 persone saam met so ‘n versoek voorgelê moes word. Mannie, Charles ZS6CZ (toe nog nuut in Pretoria uit afdeling 3) en andere het Pretoria platgery om voormemende lede se handtekeninge te kry.

Op 1 Julie 1964 is die stigtingsaansoek ingedien met die lys name. Ongelukkig het die afskrif van hierdie lys verlore geraak maar uit terloopse inligting hier en daar, word afgelei dat daar 36 name op was. Hoofkantoor het op 21 Julie toestemming getelegrafeer en dieselfde dag is die roepsein ZS6TNT geregistreer.

HUISVESTING

Een van die doelstettings by die stigting van TNT was om byeenkomste ‘n gesinsgeleentheid te maak waar die LV’s en kinders welkom is. Die tak het geen tuiste gehad nie en aanvanklik is vergaderings by die Fonteine gehou. 

Daar kon die LV’s rustig gesels en die kinders heerlik baljaar. Later is ‘n gebou geleë aan Von Wiellighstraat gebruik en daana vir etlike jare is byeenkomste by die Derdepoortse radiostasie gehou. Toe daardie saal nie meer beskikbaar was nie, het Danie ZS6BQW en Annatjie ZS6BPW ‘n plekkie op die h/v Potgieter- en Skinnerstraat raakgeloop. 

Wyle oom Herman ZR6LT het dae lank gewerskaf om die plek in orde te kry. Die drankwinkel langsaan het egter na ‘n paar maande dit in die kop gekry om uit te brei en die tak “uitgekoop.” 

Met ‘n kontak by die Stadsraad kry Willie ZS6BCV ‘n ou woonhuis by Andriesstraat 11, wat nie meer vir bewoning geskik was nie, teen R1,00 per maand te huur op voorwaarde dat ons die huis en gronde op eie koste instand moes hou en self vir water, elektrisiteit, sanitasie en vullisverwydering betaal. 

Ons het die huis binne en buite geverf, geute vervang, ‘n muur uitgebreek en die ou plek wat uit 1910 gedateer het, opgedollie soos wafferse spoghuis. 

Op 22 April 1979 word die huis onder groot belangstelling betrek en ‘n Raadslid van die stadsraad het die inwydingseremonie waargeneem.  

TNT het uiteindelik ‘n tuiste gehad wat by geleentheid selfs vir die huweliksonthaal van Gerhard Putz ZR6MZ en ook vir die voorafgaande Vrydagaandgeselligheid van die SARL se AJV-1985 gebruik is!

Omdat die klubhuis eenkant gestaan het en slegs twee of drie keer per maand gebruik is, is daar van tyd-tot-tyd ingebreek. Teen 1996 was dit so erg dat die voordeur en al ons meubels en kombuisware voete gekry het. Die huur is opgesê en ons het met wat nog oor was gevlug,

‘n Tydlank is byeenkomste by die Technikon, private wonings en Tak Verwoerdburg se klubhuis gehou totdat die huldige plekkie deur Paul Ras ZR8NC bemiddel is.

 

LEDETAL

Na die stigting van TNT het Tak Noordwes-Transvaal (Lichtenburg en omstreke) ontbind en al die lede by TNT ingeskakel. Gaandeweg het amateurs van Nylstroom, Potgietersrust, Pietersburg, Tzaneen, Rustenburg, Kemptonpark en elders aangesluit. Die tak het sy ondememing om eenkeer per jaar buite Pretoria, nader aan die plattelandse lede, ‘n byeenkoms te reël gestand gedoen. So is daar bv. by Die Bron, wes van Naboomspruit, Stokkiesdraai (anderkant Nylstroom), Parys,  Rustenburgkloof. ens. bymekaargekom en ‘n hele naweek lekker gekuier en pretgemaak.

Die oorspronklike 36 stigterslede het aangegroei totdat die 200+ kerf in 1979 bereik is. Soos nuwe takke gestig is, is daar deur die jare lede afgestaan aan Wolkberg, Protea, Jakaranda, Rustenburg, Kemptonptark en Oos-Transvaal.

Die tyd toe TNT gestig is, was ledegeld van die SARL R3,75 pj. met intreegeld van 75c en almal het aan die liga behoort In 1988 het dit al tot R39,00 gestyg en intreegeld tot R15,00. Met elke styging het minder lede hulle ledegeld hernu totdat die liga in 1996 ‘n krisis ondervind het en takke op 30 Junie daardie jaar ontbind sodat hulle selfstandige klubs kon stig. 

Klubs kon op laer ledegeld bestaan en diegene wat dit kon bekostig, het benewens hulle klublidaatskap steeds lede van die SARL gebly. Die reëling geld steeds. Daar is, na die verandering, in die laaste helfte van 1996 ‘n drastiese afname in sowel SARL- as klublidmaatskap ondervind en dit het lank geneem om weer op te tel.

NAAMSVERANDERING

Omdat TNT nie meer in die Noord-Transvaal, wat in elkgeval na die verkiesing in 1994 opgesnipper en hermoem is, die plattelandse ondersteuning van vroeër gehad het nie, is daar by ‘n Spesiale Algemene Vergadering gehou op 22 Junie 1996, besluit om af te sien van “Noord-Transvaal” in die naam en die klub wat op 1 Julie 1996 in werking sou tree, Magalies Radio-amateur Klub te noem, afgekort MRK.

In die soeke na gegewens oor “die ou dae” is ‘n brief van wyle George Miller ZS6ACQ tussen ons argiefstukke ontdek waarin hy vra dat dit opgeteken word dat daar omstreeks 1954/55 ‘n Afrikaanse klub onder voorsitterskap van oukërel Hennie van der Merwe ZS6CM van Lichtenburg, hier in Pretoria bestaan het. Hy noem die name van o.a. Charles ZS6CZ, Nic ZS4NC (later ZS6NC), Smittie ZS6ZB en Ds Dirk Human ZS6TM van Coligny, en moontlik Eddie ZS6LR, as lede. Dit was ‘n klein dog aktiewe klub wat ongelukkig nie lank oorleef nie.

Die verstommendste aspek van hierdie inligting is dat die klub “Magalies Radio Klub” geheet het! Was dit profeties? Of was daar ‘n telepatiese skakel tussen dle huidige MRK se naamgewers en die geeste van die vroeëre MRK? Die bestaan van die gewese MRK word deur Willie Lotter ZS6BDM bevestig.

(Uitgesnuffel en saamgestel deur Pieter ZS6LC)

(Oorgeskakel na WORD formaat deur Herman ZS6JHR)

(Fotos geneem vanaf MRK-50 visuele aanbieding en saamgestel deur ZS6SP)

Vir ‘n voledige geskiedenis laai die MRK-50 audiovisuele aanbieding af.

Peter ZS6SP